


My Storie
Op die ouderdom van ses het Doccie sy geboorte ma tragies verloor, en is hy aangeneem deur ‘n gesin in Bethlehem. Sy kinderjare as ‘n boerseun in die Vrystaat het hom gevorm en ‘n groot rol gespeel in wie hy vandag is. Van kleins af het Doccie gereeld perd gery en elke geleentheid aangegryp om plaas toe te gaan.
Op skool was Doccie “buitelug behep” en baie lief vir sport – veral rugby – maar kultuur het geensins agterbly nie. Hy het saam met die ander “rugby manne” aan konserte deelgeneem en het op hoërskool in ‘n seuns-Sêrgroep gesing.
Na skool reis Doccie oorsee om sy horison te verbreed. Na ‘n jaar keer hy terug en begin sy loopbaan as radio omroeper by ‘n plaaslike radiostasie in die Oos-Vrystaat. Op die ouderdom van 20 is hy raakgesien deur ‘n groter stasie in die Vaal Driehoek en het hy die skuif Vanderbijl toe gemaak, waar hy terselfdertyd voltyds gewerk het as ‘n restaurant bestuurder. Doccie sê dit is as gevolg van hierdie hoofstuk van sy lewe dat hy nie bang is vir harde werk nie.
Begin 2018 het Doccie op die Droogtehulp Facebook blad afgekom en besluit om uit te reik na Burre Burger. Hulle het onmiddelik “gekliek,” en Doccie is sedertdien baie aktief betrokke by dié saak. Doccie het ‘n diep liefde vir landbou en ‘n passie vir boere wat menigde mense inspireer.
Nooi Doccie vandag na jou skool
Hierdie jaar het Doccie besluit dat hy ook in die jeug wil in ploeg deur sy storie en boodskap by skole te deel. “Ek glo dat daar baie talent daar buite is, maar ook baie seer in kinderharte. My storie mag dalk net een of twee kinders oortuig om nooit moed te verloor nie.”
Doccie het sy eerste motiveringspraatjie vroeg 2022 by Hoërskool Wolmaranstad gelewer, en die terugvoer van studente was hartroerend – ‘n ware getuienis van wat Doccie het om te bied.
“Familie, vriende, geloof is my mandaat. Met hierdie aspekte sal ek nooit vergeet wie ek is en waartoe ek in staat is nie. Ek het die regte ondersteuning, my denkwyse is gesond, ek word gedryf deur geloof en ek sal altyd doelgerig bly om n sukses te maak van alles wat ek aanpak.”
'n Boodskap van Doccie:
Glimlagte praat harder as woorde...


































